Search This Blog

Sunday, September 19, 2010

20 jaar Reunie foto's

Sondag-oggend in memoriam gedenktyd aan ons maats wat nie meer met ons is nie.

Ek en die wonderlikste man hier op aarde


Rene Rupp, anton Stegmann en Mario Smit


Saterdag-aand reunie Groot Kuier



Tafels deur Liesel Smit en Annelie Cloete gedoen - abolutely stunning





Die onthou-jy-nog-stap tog deur die skoolgronde Saterdag


Die kinders het hulself geniet op die waterwurm en springkasteel


Vrydag aand se groot shooter kuier


Vrydag aand vindmekaar crowd



Vleis vir 'n nasie


Massippa Flip Markram, Riaan en Retha Eastes




Ek en Deidre






DVD-CD van Reunie

Ons maak 'n dvd/cd van die reunie, dit is amper klaar.
Dis 'n totaal van 33 minute, 587 foto's insluit:
- 83 individuele foto's van hoe ons nou lyk;
- 212 foto's van skooldae;
- 282 foto's van die reunie-naweek;
- 10 great songs van die '80's;
- foto's van ouens wat nie op die reunie was nie; en
- foto's van die kinders wat op die reunie was.
Die videograaf doen nou net die afwerking en laat die dvd sny. Amper klaar....
Dit kos R100 om in die reunie-rekening (kyk by reunie vir details) inbetaal te word en kan by Liesl Smit bestel word. Kry haar besonderhede ook op die reunie-page van die blog.
Moet self se, dit lyk stunning!

Monday, September 6, 2010

Reunie 2010 nabetragting

So saam met die son wat sak op 'n beautiful Sondagaand sit ek met 'n skemerkelkie en gee graag terugvoer oor die beste reunie waarop ek nog ooit was.

Die 20 jaar reunie het die Vrydag oggend met die luidste BAAANNNGG in the history of history afgeslaan om 10h00 en teen middernag was daar nog geen einde in sig nie. Van heinde en verre het 'n ander betekenis gekry. Deidre Botma het van PE af opgevlieg, Christo Swart van Durban en Flippie ("Massipa") Markram van Bazarutho, Mosambiek!!! En dit was net vir die Vrydagaand Vind Mekaar! Ons was seker so 40-50 mense daar maar ons het geklink soos 100. Die manne (16 spelers + 4 saamlopers) het die reunie amptelik begin met die eerste afslaan op Mooinooi se golfbaan. 9 putjies het hul toe besig gehou tot 5uur.... Jaco Cloete het soos 'n krap gestap en Paul Smit het met iemand onsigbaar reg langs my gepraat toe ek hulle na die golf sien. Ek het nie gedink hulle gaan regop wees vir lank nie, maar hul tweede (en derde) asems het hulle almal nog aan die gang gehou tot lank na middernag!

Ek's verder trots om te rapporteer dat Henning Lubbe nog net so lekker lang-arm dans as wat hy op skool met sy wit mokkasins gedans het, maar ons beide het soos hygende en blasende osse besef die liedjies is nou deesdae baie laaaannnger as wat dit op skool was. Ronel de Jager en Johan ("BP") du Toit het geen einde gehad nie en elke poging van 'n vroeg-wegloper taktvol en susesvol oorreed om net nog een doppie (BP) of net nog een dansie (Ronel) te he totdat jy vergeet het jy was eintlik op pad gewees. Liezel Opperman en Annelie Smit het hulself oortref met al die reelings tot in die kleinste detail en vir elke een wat opgedaag het uit die bloute, was daar reeds alles - stoele, eetgerei, en 'n berg kos wat gelyk het of ons die hele Rustenburg gaan voer. Riaan Eastes en sy vrou Retha het die varkvleis vir die naweek geborg. Ek dink hulle het met 'n trok opgedaag - en ons is almal oortuig die Eastes's se varkies kry koring en melk te ete want sulke lekker vark het nie een van ons al ge-eet nie.

Na ek Saterdagoggend met die grootste hangover wakker geword het wat ek in 20 jaar gehad het, 11h00 nog in my pajamas in die sonnetjie gesit en energie opgaar het soos 'n akkedis, was daar eenvoudig net nie 'n manier dat ek myself kon sleep om nog te gaan sports nie. Middagslapie het my reggekry en toe ek 3 uur daar opdaag was die driebeen-resies, waterballon gooi en alle sports verby. Daar was gepiekniek onder die koeltebome en boerewors-rolle vir almal gebraai. Ons klomp wat wou, gaan stap toe 'n draai deur die skoolgronde op 'n "onthou-jy-nog-tog". Ons het begin by Die Mik, verby Kraai en Camel se klasse, die snoepie is nou Deborah se kantoor (ja, sy's nou nog daar!) en die bib is nou 'n fensie kafeteria, rekenaarsentrum en bib all-in-one-mom. RHS lyk soos Fort Knox met pallisade heinings rondom en sekuriteitshekke by elke liewe gebou. Ons kon nie vasstel of dit is om die kinders binne of die kriminele buite te hou nie. Tot die asblikke word vasgeketting met slot en grendel. Maar smart as ever met parkies en bankies oral - no more sit-op-jou-gat-en-eet-jou-jambroodjie nie. Die T in die T-blok was toe allie tyd vir Tydelik met die t-blok wat nou baksteengeboue is. Die vierkant lyk skielik so groot soos 'n vuurhoutjieboksie en net een graad op 'n slag vergader deesdae daar. Die nuwe vierkant is voor die D-blok waar hulle sement gegooi het oor al die gras wat ons so hard moes plant. Die skoolbankies is snot klein en net 2 A4 papiere sal langs mekaar daarin pas. Ek en Deidre Botma kon sweer ons s'n was nie so klein nie, maar Riaan Eastes en Niels Penzhorn se dit was en ons almal weet Niels Penzhorn is slimmer as 'n mens. Jaco en Annelie se meisiekind Carla is nou daar op skool so sy en haar maats het ons rondgewys.

Die klubhuis was vir ons oopgesluit deur Mnr Danie Greyling (hy's ook nog daar) en die manne en girls het gerugby laat dit bars. Die wat nie lus was vir rugby nie het verder onder die koeltebome gekuier. Die kinders het dit uitgekap op die sprinkasteel en waterwurm en daar was 'n unlimited supply van chips, lolliepops en knibbelstuff.

Teen so sewe-uur het nog mense so stuk-stuk opgedaag vir die reunie funksie. Die term "informele kleredrag" kon netsowel gelees het "dra wat jy wil". Elkeen het letterlik aangetrek waarin hy/sy gemaklik was. 'n Klomp het gebly in hulle tekkies, t-shirts en shorts en ander het mooi kleertjies aangetrek. Ons was seker so 80 volwassenes in totaal en so 30 kinders. Johan BP du Toit was die beste seremoniemeester ever and had us in stiches. 'n Paar ouens het van hulle stoele afgeval van lag. Daar was nametags en elke outjie het sy naam gaan soek tussen die ander name op die 8 tafel-bome en al 196 matrieks se name het iewers aan 'n boom gehang. Of jy daar was of nie - ons het aan jou gedink. Elkeen het gesit waar hy wil. Daar was 'n slide-show met fotos van hoe ons oud-Rusties nou lyk en so 215 foto's van toeka se dae. Die foto's van die reunie word ook daar bygelas en kan by Liezel Smit bestel word. Die hele naweek was besonder gemaak deur die "solo's" wat opgedaag het sonder aanhangsels. Dis lekker om te weet dat ons mekaar gelike of gedislike het voordat ons geword het wie en wat ons vandag is: of die boksie nou "geskei/gesekwestreer/gay/professor/doktor" was - no-one cares. Ons weet tog die boksie is ook maar self dalk net tydelik en nie noodwendig wie die mens is nie.

Die prysuitdeling was 'n hit. Almal het genominate, daar was gestem en die wenner het 'n sertifikaat ontvang. Elke nominee had to strut his/her stuff en walk the walk vir ons.

Hier is die Rustica's:
PRINCE CHARMING: nominees Charl ("Banda") Joubert, Evan Pieterse en Charl Cilliers. Wenner was Banda.
RUSTIE CINDERELLA: nominees Leigh-Ann Stols, Jeurika Wassermann en Salome Hatting. Wenner was Jeurika.
MA-EN-DOGTER LOOK-ALIKE: nominees Annelie (Smit) Cloete en dogter, Elmarie Pelser en dogter, Henriette en dogter. Wenner was Annelie en Carla.
PA-EN-SEUN LOOK-ALIKE: nominees Christo Swart en laaitie, Evan Pieterse en laaitie, Henning Pieterse en laaitie, Paul Smit en laaitie. Wenner is Christo en Joshua Swart.
RUSTIE IN MURG EN BEEN: wie anders: Jaco Cloete. Daar was geen kompetisie - hy's getroud met 'n Rustie, sy dogter is 'n Rustie, hy fight nog met Deborah...
RUSTIE WIE SE TAKKE DIE VERSTE STREK: die nominees Deidre Botma wat van PE af opgevlieg het, Christo Swart van Durban af en Massipa wat van Bazarutho (Mosambiek) af 2 dae lank gery het in sy Cruiser. Flippie het gewen.
RUSTIE GREATEST DRINKER: hier was groot kompetisie en groot sports. BP het 'n proef toets uitgewerk wat alkohol, balans en 'n magdom rondomtalies ingehou het en die manne het alles ingesit. Die nominees Paul Smit, Anton Stegmann, Henning Lubbe en Flip (Massipa) Markram. Die wenner was Anton Stegman.

Elkeen wat daar was (Rustie sowel as plus-one) het 'n glas gekry met die RHS logo, datum en reunie opge"sandblast". Komitee-lede het stunning dankie-se gesenke gekry. Die groot gekuier het aangehou tot lank na middernag en hier tot na 2 uur was ek en my man, Mario Smit en sy vrou, Kobus Stols en sy vrou, Paul en Liezel Smit en Anton Stegmann nog hard aan die kuier. Bitter-einders. Steggies was laaste uit die deur uit.

Sondag-oggend 09:30 het ons bymekaar gekom by die Den, Quintin Jordaan het die mooiste stukkies uit die Bybel gelees en ons het stil geraak ter gedagtenis aan ons maats wat nie meer met ons is nie. Ons was so 20 mense vir die Sondag Sentiment. Ons almal het net weer 'n wake-up-call gekry om te besef dat dit die Here se genade is en NIKS anders wat ons spaar nie. En dat jy jou lewe moet regkry en reghou. Maya Wolmarans se sms boodskap was treffend: "God is good. All the time." Agt oranje rose is neergele, elkeen vir 'n maatjie wat oorlede is. Snot en trane en great memoires - nie een droe oog nie. Die berg wat Annelie en Jaco se tuisgebakte beskuit was het heerlik saam met die koffie afgegaan en na al die snot-en-trane het ons weer begin groot kuier. Ons was soos 'n hoop kole van gisteraand se bon-fire wat begin gloei het met die windjie en toe 'n stomp net naby kom, gaan die vuur groot. Teen 12uur het ek gegroet en gegaan.

Doodmoeg, sielsgelukkig en geseend om hierdie mense in my lewe te he. Van Vrydag-oggend tot Sondag-middag regdeur een groot kuier. Soos Jaco se: Ons is nie vriende nie, ons is familie. Ons hou nie net van mekaar nie, ons is regtig lief vir mekaar. 'n Beter reunie kon daar nooit wees nie.

Saturday, May 15, 2010

Reunie: Program

Ons reunie 3, 4 & 5 SEPTEMBER 2010 by Die Den, Rustenburg Hoerskool.
Die Reunie is vir die hele gesin, van klein tot groot, daar is genoeg plek vir almal. Elkeen sorg vir sy / haar eie verblyf. Moontlike plekke is: Tom's Lodge: Tel: 014 - 592 04 35, President Paul Kruger Guest Lodge: Tel: 014 - 537 25 22

Die reunie program is soos volg:

VRYDAG GOLF:
- die ouens/girls wat belangstel gaan 'n pot golf speel by Mooinooi golfbaan. Ontmoet mekaar 10h00 daar vir die afslaan 11h00. Kontak Henning Lubbe (Henning.Lubbe@lonmin.com of 082 3767728) vir tye en pryse.


VRYDAG AAND VIND MEKAAR:
- van die middag af kom ons bymekaar by die Den
- aand braai ons 'n vleisie en kuier tot laat
Ons gee: varktjops, braaivleisvure, pap & sous en goeie geselskap
Jy bring: eie dop, eie eetgerei

SATERDAG SPORTS:
- ons kuier die heeldag onder die bome en beloer die aktiewes wat wil
boeresport ens!
SATERDAG AAND HOOF FUNKSIE:
- 18:30 vir 19:00 ete - drie-gang maaltyd - en dans in die saal tot die son opkom op '80's musiek (daar sal ander musiek ook wees - trek die dansskoentjies aan). Ook 'n amazing slideshow met tonne nuwe en stok-ou foto's (oefen solank die lagspiere)

SONDAG AFSLUITING
- koffie en beskuit in die lapa
- 10h00 groet en gaan

ALGEMENE REELINGS:
- elke ou betaal en boek direk en is self verantwoordelik vir sy/haar en gesin se eie verblyf;
- daar gaan 'n eenmalige betaling wees van R200 per volwassene vir die reunie-bywoning wat sal insluit:
Vrydag aand braaivleisvure, varktjoppie, pap &sous;
Saterdag aand 3-gang maaltyd, dans, slideshow;
Sondag koffie en beskuit.


Kinders onder 18 jaar: R65 vir 'n hamburger Saterdagaand. As jy wil, bring jou eie bun en vleisie en braai kos vir jou kids.

RSVP en betaal asb voor 20 Augustus 2010 by NEDBANK RUSTENBURG, Naam: EM Smit Rekening nommer : 1607170604 Takkode: 160746. Faks asb bewys van betaling deur na Fax : 0866 712 552 E-mail: liezel1973@mweb.co.za Sel : 082 461 7735
As jy donasie wil maak of borgskap wil gee, kontak vir JACO CLOETE (076 051 7848) of stuur my 'n mail. Of maak direkte donasie in die bankrekening. Sien uit om jou daar te sien!

Sunday, March 14, 2010

Helpende Hand

In 20 jaar het die lewe party van ons geboelie en ander getroetel.
Ons het almal die waarde geleer van die kern in ons voorgeskrewe boekie Animal Farm:
"All animals are created equal, but some are created more equal than others."

Ons as reuniekomitee wil dit graag vir die ouens wat die uitgawes verbonde aan die reunie moontlik nie finansieel kan bybring nie, tog moontlik maak om te kom.

Daarom het ons besluit om 'n Helpende Hand Fonds te stig vir die wat donasies wil maak.

As jy 'n donasie wil maak:
* plaas die donasie direk in die reunie bankrekening met die verwysing "Helpende Hand"
REKENINGBESONDERHEDE: Nedbank, Rustenburg. Naam: EM Smit
Rekening nommer : 1607170604
Takkode: 160746
* enige donasie is welkom - niks is te groot of te klein nie;
* as jy borgskap wil gee, is jy welkom om op die naweek van die reunie jou besigheid te adverteer (banners, flyers, name-it). Die terme van die advertensie moet goedgekeur word deur die komitee, gee gerus vir enige van ons jou voorstelle deur;
* as jy anoniem 'n borgskap wil gee, is jy ook welkom.

As jy gebruik wil maak van donasies:
* kontak my, ek hou dit diskreet en sal jou persoonlik laat weet of daar genoeg donasies ontvang is.
* die donasie geld nie net vir jou nie, maar vir jou en jou gesin. Laat weet my net die getalle.

Tuesday, February 16, 2010

Rustie Besighede

Stuur vir my 'n elektroniese besigheidskaartjie, of detail van jou/jou eggenoot/jou werkgewer se besigheid: dis altyd lekkerder om 'n kennis te ondersteun! Uiteraard is dit gratis - maak benut van die bemarkingsgeleentheid - as jy wil. Stuur tog net jou eie besonderhede ook asseblief, dat ons weet wie ons support. Maak ook nie saak of jou besigheid in die uithoeke van die land (of aarde) is nie - oud Rusties is oud Rusties en business is business.

Saturday, February 6, 2010

Wie is waar innie wereld?

STUUR ASB VIR MY 'N FOTO EN 'N KORT STUKKIE OOR DIE DRAAIE WAT DIE LEWE MET JOU GELOOP HET IN DIE LAASTE 20 JAAR.

Cindy-Lou Strydom:
"Hallo Julle,
Julle moet volgende keer harder soek !! ha-ha of beter adverteer, ek sal baie graag volgende keer die reunie wil bywoon.
Ek is Cindy-Lou Strydom (Mouton)
Ons bly steeds in Pretoria
Is Sondag 26 September 12 jaar getroud met Cobus Mouton (Ermelo Hoërskool)
Ons het 2 worsie seuns-kinders (foto bo)
Ek hou baie van whiskey (J&B), Blou bul & Springbok Rugby, son, kamp en sommer net lekker kuier met vriende
Ek het nie veel verander nie, Is nog steeds kort
Sal julle my asb op die email hou sodat ek ingesluit kan wees by die volgende reunie.
Hoop om ‘n paar gesigte herken as ons weer ‘n reunie hou want ek moet sê die fotos van nou kon ek die mense moeilik herken."


Leigh-Ann Stolz:
"Hier is `n foto van my en my lewensmaat, Saaiks van Rensburg. Ons is albei makelaars by Discovery in Rustenburg. Ons het 3 kinders. Ons ry fiets en motorfiets en gim graag. In ons vrye tyd eksperimenteer ons met die maak van cocktails.
Sien julle by die reunie
Groete
Leigh-Ann (Stoltz)"



ELREZA KOTZE: "Is nou 8 jaar getroud met Jaco. Het in 2005 my diploma uiteindelik klaar gemaak en is nou geregistreerde verpleegkundige by Unitas in Pretoria. Is teater suster en geniet myself gate uit. Anro was in Oktober 4 en is die ligpunt in ons lewens. Hy wil natuurlik net graag 'n boetie en 'n sussie he. Sal maar moet sien. Hoop om julle almal op die reunie te sien"

Danielle Maughan Horsham: "Hello to all my South African Friends. I hope most of you remember me. I was your Australian Exchange Student - Danni. Sorry I am not writing in Afrikaans but I have forgotten most of it. I wish I could have been with you all. I think about you all everyday. Thanks you all for the wonderful memories I still have. Danni Maughan"


Sarien Steynberg: "Ek is die jaar na skool George Vroue Leer kollege toe. Die jaar in bruin was verrykend(let wel, hierdie is 'n goed vermomde eufemisme). Daarna 4 jaar geswot op Potch, as Engelse juffrou uit die stryd getree en is begin 96 London toe. Het twee jaar rondgeloop, begin 98 terug, werk 'n jaar in ACE skool in Pretoria, daarna 6 mde aflos in POTGIERSRUS!(Ek weet...) Toe Sept 98 teruggekeer na my roots in Namibie. Woon nou in Walvis saam my Engelsman, Dennis, en twee blonde spruite, Dayna en Kyreen, en raai wat? Nog steeds ENGELSE juffrou, hare opi tanne...(en party ander plekke, is darem al oor 35!)"


PETRUS STEYN: "Hoe gaan dit met almal. Die van julle wat op die 10 jaar reunie was, sal onthou dat ek die prys gekry vir die mees interesantste werk .Ek was 'n dans instrukteur vir "Latin en Ballroom dancing" destyds.
Het daarna die opleiding in die wiskunde, tegnologie en wetenskap velde gedoen vir 'n interaktiewe wetenskap museum be...kend as Sci-Bono, in Johannesburg.
Werk deesdae as 'n Educational Training and Development Practioner vir FNB, in een van hulle top besigheids eenhede.
Is in Desember laas jaar getroud met Sarah, na ons al 9 jaar saam geloop het. Dieselfde meisie wat saam met my was op die laaste reunie
Hoop om almal weer te sien volgede jaar. Veral die mense wat nie daar was op die 10 jaar reunie."



Riaan Eastes: "hi, kan nie glo 20 jaar het so vinnig gevlieg nie. dit sal lekker wees om almal weer te sien. wel, ek is nou al 14 jaar op Mokopane(Potgietersrus). getoud en het twee pragtige dogters, al moet ek dit self se. het na skool gaan swot op tuks, 2 jaar vir momentum in centurion gaan werk en toe plaas toe. ek is sedert 2000'n lid by round table en dit hou ons nogal besig."


FRANCES REID: "Ek is na skool Polisie toe vir 11 jaar. Gedraai by die BBP eenheid, Misdaadvoorkoming en Regsdienste. Ek en Morne is in 2000 getroud. Ons het nie kinders nie. Nie eers aangenome kinders nie, nou neem ons maar renosters aan. Ek is in 2002 uit die SAPD en die na-ure se swottery deur Unisa het toe vrugte afgewerp toe ek kon begin praktiseer. Ons bly in Pretoria en is happy. Sjoe, dis geen grap om 20 jaar te probeer opsom nie. Maar ek hoop die ander join in..."


MAYA WOLMARANS: "NA skool het ek gaan swot by RAU, toe vir 12 jaar by Sanlam gewerk in Rustenburg, in 2003 my eerste kind gehad en toe al 3 in 3 jaar ingeryg en toe in 2007 getroud met Miles (binne 4 dae want ons kon nie visums kry vir Australie nie en danksy Binnelandse sake ook nie bewys dat al 3 wel ons kinders is nie)....Eduan is 6, Liam 4 en Margot byna 3.Ekdoen nou wat my droom nog altyd was: is voltyds ma en huishoudster en wil soms weghardloop, maar baie bly om by my kinders te kan wees en hulle te sien grootword en ontwikkel.Miles werk vir North Parkes. Dit is 'n Rio Tinto myn in NSW Australie.Ons bly hier in Parkes sedert Junie 2006.Dit is so 360 km nw van Sydney.Geniet dit hier, maar pas steeds aan. Ons mis SA baie, veral die familie en vriende daar."

ANET POTGIETER: "Hallo. Sjoe ma julle het almal groot geword.. Ek werk by 'n prokureursfirma in Pretoria, het twee pragtige kinders, 'n wonderlike man en 'n vol en geseende lewe. Hoop om almal by reunie te sien. Groete, Anet"



WALTER CLOETE:
"Ek woon tans in die Uk vir die afgelope 10 jaar. Het oorspronklik oor gekom as n semi pro rugby speler en speel steeds rugby in n top span in "Cumbria". Ek wou rugby gebruik het om die wereld te sien en het n kontrak gehad om na die UK, in USA,Duitsland en Spanje vir n seisoen elk te speel,maar ek het te veel van die "Lake District gehou en dit is hoe ek steeds hier woon.Ek is tans n "Business Growth Manager" vir n groot "Blue Chip" maatskappy in die gas en elektrisieteit bedryf en sien om na die hele Noorde van Engeland en die Suide van Skotland.Ek sal n bietjie my details op die "blog" gaan sit en net n woordjie om te se dat jy n fantastiese "job" doen met die reunie. Dit voel alreeds soos n daglike reunie om weer in kontak met vriende te wees!Groete daar Walter"